Bok Radio 98.9fm Die Beter Alternatief
Gebore en getoë in die Noordelike Voorstede van Kaapstad – die oudste van 4 kinders.
Na matriek aan die Hoërskool Stellenberg het hy sy graad in Finansiële Rekeningkunde asook in Afrikatale (isiXhosa) aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna hy ‘n nagraadse diploma in Advertensiewese ontvang het. Later het hy my nagraadse diploma in Finansiële Beplanning, ‘n sertifikaat in Openbare Betrekkinge asook ‘n sertifikaat in Berading aan UNISA verwerf.
Sy liefde vir radio het reeds op skool ontwikkel. As student aan die universiteit was hy ’n omroeper by MFM en het ook op die radiostasie se bestuur gedien. Later jare het hy vryskutwerk vir CCFM in Kaapstad gedoen.
Sy werksloopbaan het in die 90s in Johannesburg begin in die uitgewerswese asook die musiekbedryf. Later het hy na Europa verhuis waar hy vir 7 jaar gewerk het vir British Sky Broadcasting asook vir ‘n nie-regeringsorganisasie as ‘n media direkteur.
Terug in Suid-Afrika, bevind hy homself weer in die finansiële bedryf as onafhanklike finansiële adviseur en bedryf ook sy eie besigheid waar hy “jingles” en “imaging” vir radiostasies ontwerp en vervaardig.
Yvon het ‘n groot voorliefde vir die teater en is ‘n lojale ondersteuner van Kaapstad Opera. Hy speel ook viool, maar dis nog ‘n “work in progress”. Hy sien nie homself as ‘n akteur nie, maar het al aan vele teater produksies deelgeneem. Meestal in klein komiese karakterrolle en word beskryf as ‘n ekstroverte introvert.
Wanneer die tyd daar is geniet hy dit om te kook en te eksperimenteer met verskillende bestanddele – ‘n paar jaar gelede het hy aan KykNET se “Kêrels wat Kook” deelgeneem en gewen.